Deur Linda Henderson
Jarelange navorsing het onomwonde bewys dat verskeie faktore van wolgehalte soos veseldeursnee, vesellengte en trekstrekte beïnvloed word deur die hoeveelheid voedingstowwe wat vir die wolfollikels beskikbaar is. Volume word op sy beurt deur faktore soos veseldeursnee en –lengte beïnvloed. Verskeie navorsers meen die uitwerking van voeding op wol word hoofsaaklik deur vesellengte en –deursnee weerspieël.
In Merino-wolproduksie is die aanvoeling van wol tradisioneel ‘n groot aanduider van gehalte. Voorkeur word gegee aan die sagtheid van aanvoeling in die beoordeling van wol en die seleksie van skape wat goeie gehalte wol produseer. Dit is algemeen bekend dat fyner wol ‘n sagter aanvoeling het, wat direk gekorreleer word met die veseldeursnee wat objektief in mikromete-eenhede (micron) gemeet word. ‘n Mikron dui die deursnee van die vesel aan en is gelykstaande aan een duisendste van ‘n millimeter. Veseldeursnee kan subjektief bepaal word deur die aantal kartelings per 25mm wol te skat, met die inagneming van hantering, stapeldikte en gehalte. Hoe meer kartelings per 25mm, hoe fyner is die wol.
Prof Deurden se navorsing
Die pionier van wolnavorsing in Suid-Afrika, prof JE Duerden, word veral onthou vir die feit dat hy hierdie sterk korrelasie tussen vesellengte en veseldeursnee in ‘n Merino-wolstapel raakgesien het, en die veronderstelling gemaak het dat die spiraalgroei van die vesels die golwings van die kartels in wol vorm en die spiraalvorm deur sywaartse druk platgedruk word.
Hy sal ook onthou word vir die samestelling van standaarde vir veseldikte en kartels in Merino-vetwol. Ten tyde van sy navorsing in die laat 1920`s, is ‘n gehaltenommer aan elke wolmonster toegeken, oënskynlik om die telling waarteen die wol gespin kon word aan te dui. Hierdie nommer is egter op grond van subjektiewe meting bepaal en het waarskynlik sodoende sy bedoelde verhouding met die ware spintelling verloor.
In die handel het dit egter as ‘n klassifikasiemetode volgens die vernaamste veseleienskappe gedien, wat na verwagting die spinprestasie kon beïnvloed. Prof Duerden het verskeie monsters aan wolkenners voorgelê, sodat hulle die veseldeursnee en aantal kartels per duim kon meet. Daarvolgens het hy ‘n tabel saamgestel wat die gehaltenommer onderskeidelik met die deursnee en karteling verbind.
Hoewel dit nie die eerste poging was om veseldeursnee of karteling met spintelling te verbind nie, was dit waarskynlik die eerste wat die deursnee en aantal kartels per eenheid-lengte by die Brandford-ter-minologie sou insluit. Hierdie standaarde word sedert die publikasie daarvan in 1929 in Suid-Afrika gebruik.
Vandag verteenwoordig Duerden-wol die ideale balans in hanteringsensitiwiteit, verwerkingsvermoë en eienskappe van die finale produk. Die wolboer se teelbeleid moet wees om wol volgens die Duerden-standaard te produseer.
Die gemaksfaktor
Jare later beïnvloed die veseldeursnee steeds 70 tot 80% van die vetwolprys oor die lang termyn. Dit is veral duidelik in die fynwolkategorie, waar ‘n variasie van so laag as een mikron ‘n aansienlike rol in die verkoopprys speel. (Hier kan ook genoem word dat skoonopbrengs en treksterkte ook die uiteindelike prys per kilogram beïnvloed) Die gemiddeld van die onderskeie klasse is tussen 18 en 20 mikron vir fyn Merinowol, en superfyn wol is so laat as 15 mikron.
Die term “gemaksfaktor” (CF), wat gedefinieer word as die persentasie wolvesels met ‘n deursnee minder as 30 mikron, het die afgelope tyd die gonswoord in die bedryf geword en is gewild as ‘n objektiewe metode om die gemak van wol te toets. Die belangrikheid van CF het betrekking op die gevoel van ‘n material teen die draer se vel. Materiaal wat van wol met ‘n hoë CF (>95%) gemaak word, sal minder harde vesels hê wat makliker buig en gevolglik minder krapperig voel. Sommige kenners verskil egter hieroor.
Wol-gemaksmeter
Volgens David Tester van die Sheep Co-operative Research Centre (Sheep-CRC) in Australië, het die wolgemaksfaktortoets beperkte waarde in die voorspelling van ‘n kledingstuk se uiteindelike gemak. Die rouwol of wolpunte word getoets wanneer die gemiddelde veseldeursnee gemeet word. Tester het ‘n wolgemaksemeter nagevors en ontwikkel.
Die Sheep-CRC toets die gemak van wolmateriale deur middel van draerproewe en vergelyk die resultate dan met die wolgemaksfaktor se resultate om die korrelasie te bepaal. Die resultate dui daarop dat voltooide wolkledingstukke met ‘n wolgemaksfaktor bo 99,5% gekorreleer word met ‘n draer-prikkelgradering van minder as twee (prikkel onder ‘n drumpel-opspoorwaarde). Wanneer wol met ‘n wolgemaksfaktor laer as 99,5% egter gebruik word, word dit geassosieer met ‘n wye verskeidenheid draer-prikkelgraderings van tussen twee en vier. Navorsing het ook getoon dat die seleksie van rouwol met ‘n gemiddelsde veseldeursnee van minder as 18 mikron die eerste stap is om gemak teen die vel te verseker.
Wolaanvoelingsmeter
Die CRS het ook ‘n aanvoelingsmeter vir die objektiewe meting van aanvoeling ontwikkel. Die aanraking of aanvoeling van ‘n kledingstuk is een van die belangrikste oorwegings wat ‘n verbruiker se koopbesluit beïnvloed. Hoe ‘n kledingstuk op die rak of teen die vel voel, is net so blangrik vir verbruikertevredenheid as vir gemak.
Wol is uniek en bekend vir sy veelsydigheid en vermoë om vir sy wye reeks smake en eindgebruike voorsiening te maak. Gevolglik sal die vereiste aanvoeling van ‘n wolkledingstuk nie dieselfde wees vir verskillende produkte, verbruikers en handelsmerke nie. Die wolaanvoelingsmeter bied ‘n numeriese telling vir ‘n stel maklik verstaanbare aanvoelingsterme, wat deur internasionale materiaalkenners bepaal word. Wanneer ‘n materiaal se fisiese eienskappe getoets word, meet die wolaanvoelingsmeter die sewe kerneienskappe van aanvoelig: gladheid, sagtheid, warm gevoel, droë gevoel, harigheid, styfheid en waargenome gewig, sowel as ‘n algehele luukse aanvoelingsindeks.