Boere wat oor baie jare volhard om ‘n skaapbedryfstak te vestig, uit te brei en die produksiedoeltreffendheid te verhoog, pluk nou die vrugte van rekord vleis- en wolpryse. In tye wanneer ‘n bedryf die kruin van voorspoed ry, word kritiese faktore soos bv. insetkostes dikwels oor die hoof gesien en die finansiële effek daarvan word gou gevoel namate produkpryse sywaarts beweeg. Voerkoste, d.w.s selfgeproduseerde voer en gekoopte voer, verteenwoordig ongeveer 70 % van produksiekoste en daarom is dit belangrik om krities na hierdie uitgawes te kyk.
Voerkoste kan die winsgewendheid van intensiewe skaapboerdery kelder
Huidig bestaan daar nie ‘n standaard definisie vir intensiewe skaapboerdery nie en dit wissel van nil beweidingstelsels (volvoerstelsels) waar skape vir 365 dae op kraal staan tot lamhokstelsels waar meerlingooie vir ongeveer 7 dae in lamhokke staan en dan uitgaan na weidings. In hierdie artikel sal na verskillende stelsels en die kostes daarvan verwys word. Dit is algemeen bekend dat ‘n melkkoei die mees doeltreffende herkouer is en as gevolg van voerkostes, het melkerye wegbeweeg van volvoerstelsels na laer koste hoë kwaliteit aangeplante weidings. Daar is heelwat te leer by melkerye omdat daar groot ooreenkomste tussen die intensiewe stelsels is. Intensiewe volvoerstelsels by skape is ook nie ‘n nuwe idee nie en Mnr Streicher Cilliers van Chrissiesmeer (Mpumalanga) het in die vroeër tagtigerjare ‘n studie met vyf skaaprasse gedoen. Hierdie studie het aan die protokol vir ‘n M.Sc studie voldoen en is na agt maande gestaak weens hoë voerkostes. Theunissen (2017) wys ook dat die wins in ‘n meer ekstensiewe groenvoerstelsel R100405 per 100 ooi-eenheid beloop teenoor R23769 van ‘n volvoerstelsel. Eintlik is dit heel eenvoudig om ‘n kosteberaming te doen, want dit gaan oor voerhoeveelhede wat in verskillende produksiestadiums nodig is, wat die voer kos en wat die uitset in terme van kg lam en kg wol is en wat wat die pryse daarvan is. Die voedingsbehoeftes van skape is goed nagevors en die basiese riglyne word in Tabel 1 aangetoon.
Tabel 1. Voedingsbehoeftes van ʼn 70 kg ooi met ʼn tweeling (as voorbeeld) in verskillende produksiestadiums (NRC, 2007).
*Droë materiaal (DM) verwys na 100 % droog. Droë ruvoere soos bv. lusernhooi is nie 100 % droog nie, maar bevat ongeveer 10 % vog (lugdroog).
Die NRC-tabelle gee ‘n goeie aanduiding van voedingsbehoeftes en bevat baie meer detail as bogenoemde, maar vir die bepaling van voerhoeveelhede en kwaliteit, volstaan ons by bogenoemde riglyne. Die inligting kan goed gebruik word om voervloeibeplanning, hoeveelhede en voerkostes te
bereken. Byvoorbeeld, oor ʼn tweejaar-periode waar die ooi elke 8 maande lam, benodig ‘n 70 kg ooi nagenoeg 720 kg onderhoudsvoer en 650 kg laktasievoer, dus ongeveer 1.37 ton in totaal. Om ‘n 24 kg lam op 60 dae te speen, word ongeveer 60 kg kruipvoer benodig (oor die 3 siklusse in twee jaar). In die geval waar volvoere self gemeng word met eie grondstowwe (mielies en lusern), beloop die totale voerkoste R3760.00 per ooi per tweejaarsiklus en die gelykbreek vir voerkoste, is 4.1 speenlammers per ooi (137 speenpersentasie per lamkans). Waar volledig gebalanseerde voerpille aangekoop word, is die totale voerkoste R6500.00 en die gelykbreek vir voerkoste is 7.1 speenlammers (237 speenpersentasie per lamkans). Die volhoubaarheid van hierdie hoë speenpersentasies word bevraagteken en in praktyk is dit moeilik haalbaar. Verder, by die selfgemengde voere is ‘n huidige lae mielieprys van R2000.00 per ton verreken en ander kostes soos uitgroei van vervangingsooie, veeartsenymiddels, sinchronisasie en kunsmatige inseminasie, ramkostes, onderhoud en diverse kostes is nie in berekening gebring nie. Inset- en uitsetpryse soos in Oktober 2017 is in berekening gebring. Waar skaapboere oor ander voerbronne met laer pryse as bogenoemde beskik en/of hoër lampryse as die normale realiseer, sal die uitkoms anders wees.
Die grootste beperking by volvoerstelsels is dat ‘n ooi vir lang tydperke ondoeltreffend is. In haar produksiesiklus is sy vir ‘n relatiewe kort periode van 10-12 weke werklik doeltreffend om voer in geld om te sit. Haar voedingsbehoeftes styg aansienlik in die laaste 6 weke van dragtigheid en in die eerste 6 weke van laktasie (Tabel 1). Sy bereik haar piek melkproduksie ongeveer 3 weke na lam en dan plat melkproduksie af. In intensiewe stelsels word lammers op 8 weke gespeen en daarna is die ooi vir ten minste 5-6 maande droog. In hierdie droë tydperk vreet sy net en produseer niks, d.w.s. ‘n ondoeltreffende voerbenutter. Hoe groter die ooi, hoe meer vreet sy en lewer geen inkomste nie. In die geval van dubbeldoelrasse, produseer sy daagliks 7-12g skoonwol en met huidige wolpryse beloop dit ‘n inkomste van R1.20 tot R2.00 per dag. Wolinkomste kan ‘n betekenisvolle deel van die kostes betaal.
In ‘n praktykproef oor 5 weke (laaste 2 weke van dragtigheid en eerste 3 weke laktasie) is ooie 79 kg gevoer (inset) en die uitset was 23.6 kg lam op 21 dae ouderdom. Dit verteenwoordig ‘n voeromsetverhouding (VOV) van 1:3.3 (aanvaar geboortemassa as deel van die uitset) en dit is dus ‘n doeltreffende ooi wat voer in geld omsit. In dieselfde studie was daar ooie met ‘n VOV van 1:5.9, dus swak voeromsetters en nie winsgewend om te voer nie. Om die somme te laat klop, moet voerverbruik en kg lam geproduseer noukeurig gemonitor word, want dit bepaal die winsgewendheid van die stelsel. Ooidoeltreffendheid speel ‘n baie belangrike rol en teling vir verhoogde doeltreffendheid is krities belangrik. In telingsproewe is gevind dat sekere ooie tot 48 % meer kg lam per kg ooimassa produseer op 42 dae ouderdom (Van Pletzen & de Villiers). Groot variasie kom tussen ooie voor en dit bied die geleentheid vir seleksie – ongelukkig is dit ‘n baie stadige proses.
Geleenthede om skaapboerdery te intensiveer
In meeste skaapboerderye is daar ‘n geleentheid om meer lammers te speen deur op die regte stadium van die ooi se produksiejaar te fokus. Soos reeds genoem, is ‘n ooi in die laaste 4 tot 6 weke van dragtigheid en die eerste 6 weke van laktasie doeltreffend om voer in geld om te sit. Hierdie tydperk kan ook met reg die 100 rooi dae in die ooi se produksiesiklus genoem word, want verskillende prosesse wat sigbaar en nie sigbaar is, vind dan plaas. Ongeveer 70 % van die lam se geboortegewig word bepaal, die geboorteproses self, uierontwikkeling, bies-en melkproduksie en
gevolglik lamoorlewing en die groei van lammers, alles sigbare prosesse, word dan bepaal. Wat nie met die oog gesien kan word nie, is eiselontwikkeling wat plaasvind en die grootte van die volgende lammeroes bepaal. Ook die hoeveelheid wol wat ‘n skaap produseer begin reeds by die ongebore lam. Primêre en sekondêre follikelontwikkeling vind plaas in die laaste derde van dragtigheid en staak ongeveer by speentyd. Die dag as die lam gebore is, kan follikels nie méér word nie. Navorsing toon dat nageslag van ooie wat in die laaste derde van dragtigheid tot speentyd te min voeding ontvang het, tot 20 % minder wol oor hul leeftyd produseer (Schinckel & Short, 2001).
Die groot uitdaging is om aan die ooi se hoë voedingsbehoefte te voldoen teen ‘n lae koste. Tabel 2 verskaf riglyne vir weiding en voerkoste in die 100 rooi dae. Hierdie kostes is riglyne en elke boer sal sy eie kostes met eiesoortige hulpbronne maak.
Tabel 2. Weiding- en voerkoste per ooi tydens laat dragtigheid en laktasie
Huurkoste van die weiding en lekkoste soos in Oktober 2017 is in berekening gebring. Sojaboonreste-weiding kan ook met sukses gebruik word, maar die lek moet genoeg deurvloeiproteïen bevat. Verskeie ander weiding- en voerbronne kan ook in die 100 rooi dae gebruik word, maar hoë kwaliteit is ‘n vereiste. Deur net na bogenoemde kostes te kyk, verklaar waarom melkerye van volvoerstelsels na hoë kwaliteit weidings verskuif het.
Meervoudige lamseisoene soos bv. elke agt maande lam, is ekonomies moeilik volhoubaar. Waar hoë kwaliteit lae koste weidings en/of voerbronne regdeur die jaar beskikbaar is en by maklik hanteerbare kleiner skaapkuddes waar top bestuur vir 365 dae van die jaar beskikbaar is, kan dit nog gedoen word. Verskeie boere wat ook ander bedryfstakke het en wat met groter skaapkuddes boer (1000 en meer ooie), skakel terug na een lamgeleentheid per ooi per jaar, bv. ‘n lente- en herfslamseisoen. Die bestuur is aansienlik makliker, voorkomende siektebeheerprogramme is meer effektief en voerkostes is betekenisvol laer. Met een lamgeleentheid per ooi per jaar is speenpersentasies van 150 en meer haalbaar, maar teen laer kostes.
Die geleentheid bestaan om wins uit skaapboerdery deur intensiewe stelsels te verhoog, maar die ooi se terugbetaalvermoë (doeltreffendheid) is vir ‘n kort periode van 10-12 weke rondom lamtyd. In haar droë periode moet sy op lae koste weidings of voerbronne loop. Dieselfde geld tot ‘n groot mate vir vervangingsooie, wat eers op ongeveer 15-16 maande ouderdom ‘n inkomste kan lewer, uitgesonderd wolskape. By melkerye word die grootmaak van vervangingsverse toenemend uitgekontrakteer, reeds om hierdie rede. Die groot geleentheid (of risiko vir te hoë voerkostes) vir intensiewe stelsels lê in die plaas se eiesoortige weiding- en beskikbare voerbronne.
Hierdie doeltreffende ooi se uitset
(kg lamgewig) op 21 dae ouderdom was 23.6 kg. Haar voerinname was 79 kg (2.6 kg/dag) en haar VOV dus 1:3.3.
Hierdie ondoelteffende ooi se uitset was 13.5 kg lamgewig op 21 dae, haar voerverbruik 80 kg en VOV dus 1:5.9